Original article on Sake Repport
“Kenners maan oor impak op verbruiker van yslike lening”
Eskom se werk is om krag op te wek, maar die kragverskaffer hou hom besig met politiekery – teen ’n geweldige koste, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep. Roodt het gereageer op Eskom se onlangse aankondiging dat hy ’n lening van R9 miljard by die Wêreldbank aangegaan het om sy Komati-kragsentrale uit diens te stel en te omskep vir die lewering van hernubare energie.
Komati het die einde van sy leeftyd bereik en die laaste eenheid is op 31 Oktober gesluit. Die lening maak ook voorsiening vir die koste van die “billike oorgang” na groener kragverskaffing, wat die heropleiding van personeel en ander “begunstigdes uit die gemeenskap” en die ontwikkeling van klein ondernemings en verskaffingskettings om Komati insluit.
Eskom erken dat óf die kragverbruiker, óf die belastingbetaler die koste gaan dra, en hy beplan soortgelyke projekte by Majuba, Lethabo en verskeie ander ou steenkoolkragsentrales. Vir die R9 miljard beplan Eskom ook 150 MW se sonkrag, 70 MW se windkrag en 150 MW se batteryberging op die perseel. Tommy Garner, voorsitter van die vereniging van onafhanklike kragverskaffers (Saippa), sê die geraamde koste van windkrag in Suid-Afrika is R20 miljoen/MW, van sonkrag R12 miljoen/MW en van batteryberging R16 miljoen/ MW. Daarvolgens kan geraam word dat dié deel van Eskom se projek hom R5,6 miljard uit die sak kan jaag.
Ander bronne meen Saippa se syfers is te konserwatief en dat dit nader aan R6,5 miljard sal wees. In albei gevalle is ’n reusebedrag in die lening voorsien vir uitdiensstelling en maatskaplike ingrepe om die impak van die sluiting van Komati op die gemeenskap te beperk. Boonop is daar vroeër reeds voorsiening gemaak vir die koste van omgewingsrehabilitasie ná die sluiting van die kragsentrale.
Luidens Eskom se finansiële state vir 2020-’21 is die totale voorsiening hiervoor by steenkoolkragsentrales R15,2 miljard. Die vraag wat Eskom nie kon beantwoord nie, is hoe die R9 miljard toegewys word en hoeveel waarde die kragverbruiker en belastingbetaler vir sy geld gaan kry wat kragvoorsiening betref. Eskom het aan Rapport gesê: “Die bepalings van die fasiliteit is onderhandel en op ooreengekom, maar dit sal as finaal beskou word wanneer die werklike konsessieleningsdokumente deur al die partye onderteken is.
‘‘ Dit beteken nie Eskom moet geld leen om ’n klomp ander goed te doen nie.”
“Dit sluit die besonderhede oor die finale toewysing in.”
Roodt sê Eskom het reeds sowat R400 miljard se skuld; sowat die helfte meer as wat die kragverskaffer self kan betaal. Die regering het beloof om tussen ’n derde en twee-derdes daarvan oor te neem, maar dit het nog nie gebeur nie. Roodt meen dit is dwaas om nou nóg geld te gaan leen. “Net omdat daar nou baie geld (vir groenkrag) beskikbaar is, beteken dit nie Eskom moet dit leen om ’n klomp ander goed (as kragopwekking) te doen nie.”
Hy meen Eskom sou beter gedoen het om Komati te verkoop aan ’n private belegger en verdere uitgawes te beperk. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het trouens al in die openbaar gemaan dat Eskom sy ou kragstasies moet verkoop. Roodt sê dis nie Eskom se verantwoordelikheid om gemeenskappe om ou steenkoolkragstasies sover te kry om die omskakeling na groenkrag te steun nie, en die koste van gemeenskapsinisiatiewe kan nie by kragtariewe gevoeg word nie. Politici sit volgens hom agter die ontwikkelingsdoelwitte en daarvoor moet hulle belastinggeld toewys.
Luidens ’n besprekingsdokument wat Eskom vroeër gepubliseer het oor die maatskaplik-ekonomiese impak van die sluiting en omskepping van Komati is 4 166 direkte en indirekte werkgeleenthede
in die weegskaal waarvan byna 800 op die perseel, asook ’n bydrae van R1,71 miljard tot die land se bruto
binnelandse produk. Van die ingrepe wat bespreek word, is die daarstel van ’n produksiefasiliteit vir mikrokragnetwerke, ’n opleidingsgerief, die heropleiding van personeel en “kwalifiserende begunstigdes uit die gemeenskap”, asook die ontwikkeling van ondernemings en waardekettings.
MC Botha, ’n tariefkenner en prokureur met verskeie hofoorwinnings teen die energiereguleerder Nersa agter die rug, sê die tyd sal leer of verbruikers- tariewe gelaai sal word om vir die lening te betaal. Wanneer Nersa Eskom se tariewe oorweeg, is hy gebind aan wetgewing wat Eskom net toelaat om doeltreffende koste plus ’n redelike opbrengs op sy kapitaal te verhaal.
Verder is daar riglyne in die prysbeleid vir elektrisiteit soos dat kragpryse bekostigbaar moet wees, deursigtig en die koste van kraglewering moetweerspieël. As Eskom beplan om die koste op die verbruiker af te skuif, sal die impak daarvan op openbare sittings oor die kragtarief openbaar moet word, sê Botha.
“Dit is eers dan wanneer die koste-implikasies van so ’n lening en die wettigheid om dit by die tarief in te sluit, bevraagteken en geëvalueer kan word.”
Eskom sê as hy voldoen aan die voorgeskrewe wetlike en regulatoriese prosesse vir die sluiting en omskakeling van Komati word dit as depresiasie en opbrengs op kapitaal deur die kragtarief van verbruikers verhaal.